|
|
Daaglikse Heuningdruppels 2024
|
...
soeter as heuning, as druppels uit 'n heuningkoek (Ps
119:11)
Die daaglikse heuningdruppels is ook op ons
Facebook-groep. Klik hier:
|
|
Duplisering en
verspreiding word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na
die outeur (Wilna / Willem Botha) en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
Lees gerus
enige van ons onlangse skryfsels in die tabel hieronder ..... |
|
Die Here sal vir my sorg...
Jip, Hy sê Hy sal, op vele plekke in die Bybel, en Hy sê op hordes
plekke ons moet ons nie bekommer oor môre nie. En ek glo dit en
beleef dit.
Maar ek begin meer en meer sukkel om my kop heeltemal om hierdie
gedagte te kry. Hoe? In alle omstandighede? Wat is my eie
verantwoordelikheid rondom hierdie saak?
Op ons ouderdom begin kuiers met ons vriende (wat almal omtrent so
oud soos ons is), gewoonlik op dieselfde manier. Praat oor werk,
kinders, kleinkinders, skinder bietjie oor dit en dat (en hierdie en
daardie mense), en dan raak die gesprek ernstig en bevat die
volgende elemente: kwale, medikasie, brille en pille (dit val nie
altyd onder tradisionele medikasie nie, want boererate speel ook 'n
rol) en dan kom die onvermydelik vraag: Wanneer gaan jy af? Dit
beteken natuurlik wanneer gaan jy aftree, want ons is nou "daar".
Die meeste mense moet om en by op 65 "klaarmaak".
Wat gaan julle doen? Gaan julle reis? Die kinders oorsee besoek? Die
land platry? Dalk 'n skuif maak na 'n kleiner (peperduur) plekkie?
'n Sport of stokperdjie beoefen?
En dan, meesal, word die realiteit van die situasie baie versigtig
op die tafel gesit. Ons kan dit nie regtig bekostig nie. Lewenskoste
is te duur. Wat van ons medies?
Dis altyd dieselfde. Vir die meeste mense is aftreedag onwelkom, vol
vrese en met tonne onsekerhede, want die finansies het nie gewerk
soos dit belowe is deur die raadgewer nie.
Die mense se lewe loop min of meer soos volg: Die eerste 20 jaar
(min of meer) word jy groot, gaan skool, studeer en begin met 'n
loopbaan. Die volgende 45 jaar werk jy, verander dikwels van beroep
en werkgewer, en werk hopelik jou tonne skuld af.
En dan kom die skok as jy besef jy gaan heel moontlik dalk nog 25
jaar leef. En jy moet leef met dít wat jy in 45 jaar weggesit het,
net om te besef dat die meeste mense dit nie kan doen nie. Gewoonlik
sê die meeste mans hulle moet dalk iets by die huis begin vir ekstra
inkomste, maar dan is dit ongelukkig 10 jaar te laat, want dis hoe
lank dit neem om 'n oornag sukses te wees.
Nou ja, dit som min of meer die gesprekke van mense wat so oud soos
ek is op.
En dan, bykans deur die bank, kom die versigtig optimistiese gedagte
na vore: Maar ek vrees nie, want die Here sal vir my sorg.
Ek gebruik dieselfde woorde.
In 'n baie kort tydjie was ek in vele van hierdie gesprekke met
vriende, asook ander mense wat nie so naby my is nie.
En hier is die dilemma waarmee ek sukkel. Hóé gaan die Here vir my
sorg? Gaan Hy op misterieuse maniere geld in my rekening laat beland?
Dalk geld waarvoor ander mense werk? Ander mense soos my kinders?
Gaan Hy my versorg binne die raamwerk van my gerieflike lewe in my
gerieflike huis? Gaan ek so gesond bly dat ek nie vir mediese
uitgawes voorsiening hoef te maak nie?
Of gaan Hy my versorg soos wat Hy my huishulp versorg? Vieruur in
die oggend opstaan om 5 uur die taxi werk toe te neem om ander mense
se huise skoon te maak? Sy bid sekerlik ook vir versorging.
Gaan ek dalk my gerieflike huis verloor en met 'n moeilike lewe
tevrede moet wees?
Kyk wat sê die Bybel hieroor, kort en kragtig.
1 Tim. 6:8 "As ons dan kos en klere het, moet ons daarmee tevrede
wees."
Net kos en klere Here? Wat van my gerief en weelde?
Ja ek glo die Here sorg vir ons, maar dit sal dalk anders wees as
wat ons dink.
'n Predikant het eendag hierdie volgende woorde gesê en dit sal my
vir altyd bybly:
Doen álles (ALLES) wat jy kan en moet doen, en begin eers daarna
bid.
Ek het vele kere in my lewe gesien dat mense álles verloor wat hulle
gehad het, en uiters dankbaar is vir die bietjie wat oor is. So min
dat selfs kos en klere 'n luukse is.
Ja, die Here sal sorg, maar dalk effe anders as waarop ek hoop. Maar
ek hou aan Hom vas, want Hy is al wat ek nodig het. ~ Willem Botha,
09/09/2024 |
|
Ek kan jou 'n brief gee...
'n Baie bekende spreekwoord wat jy gebruik as jy 'n sterk punt wil
oorbring. So ietsie van dat die geskrewe woord vas staan en nie kan
uitgewis word solank as wat daar 'n kopie daarvan bestaan nie. In
ons jong dae was dit maar die beste vorm van kommunikasie wanneer
daar nie 'n telefoon beskikbaar was nie. In die weermag het ons nie
toegang gehad tot telefone in die basis nie (ons het vir twee jaar
in 'n tentbasis buitekant Potchefstroom gebly) en ons moes staatmaak
op briewe vir kommunikasie. Maar nou ja, in daardie tyd kon jy 'n
brief Dinsdag skryf en jou ma het hom in Pretoria gehad voor die
naweek. Goeie ou dae toe dinge nog gewerk het.
Maar o wee, daardie selfde vorm van kommunikasie was nogal 'n straf,
want terwyl ons basiese opleiding gedoen het, het jy 'n klomp
push-ups gedoen as jy 'n brief kry. Ja, in die weermag is "push-ups"
suiwer Afrikaans, tesame met ander woorde wat ek nie hier kan noem
nie.
Maar my pa was baie ondeund, en as my ma vir my 'n brief skryf het
hy dikwels die brief vrot van die parfuum gespuit en snaakse
afkortings agter op die koevert geskryf. Dinge soos ILU (I love you)
en ander woordjies wat ek glad nie kan onthou nie. Een was ELVIS,
maar ek kan nie onthou wat dit beteken het nie. Dan het jy ge-suffer
(ook Afrikaans) met 50 push-ups vir elke woordjie.
'n Brief wat op papier geskryf was, was baie baie kosbaar.
Stap so bietjie saam met my terug in tyd, in die tyd toe Paulus in
die tronk was en briewe vir verskeie gemeentes geskryf het. Hoe het
die pos sisteem gewerk? Daar was tog nie n rooi posbus waarin hy die
brief gegooi het nie, en hy het waarskynlik daardie brief aan een
van die bewaarders gegee, en dan moes daardie brief sy weg baie ver
vind om by die gemeentes uit te kom. Dalk oor kontinente heen, en
van een hand na die ander, totdat dit by die ontvanger uitgekom het.
Dit was natuurlik geskryf op mediums wat ons nie meer vandag gebruik
nie, en nie een van daardie oorspronklike briewe bestaan meer nie,
want dit het vergaan. Ons het vandag kopieë van kopieë van daardie
briewe. Hoeveel briewe het hy geskryf wat nooit die hele pad gegaan
het nie? Soos jy weet het Paulus 13 van die 27 boeke in die nuwe
testament geskryf, en daardie woorde staan vandag vas. Want Paulus
het sekerlik gesê (Ek kan vir jou 'n brief gee...)
Dink net vir 'n oomblik hoe die Bybel gestalte gekry het. Meer as
40 skrywers het oor 'n tydperk van meer as 1600 jaar daardie
dokumente geskryf, in drie tale (Grieks, Hebreeus en Aramees), op
drie kontinente (Afrika, Europa en Asië). Die meeste het mekaar nie
geken nie en het meesal nie in dieselfde tyd geleef nie, maar hulle
het saam geskryf aan God se liefdesbrief wat aan jou en my gerig is.
Daar moes bonatuurlike wonderwerke plaasgevind het om te verseker
dat daardie dokumente se inligting behoue gebly het, net spyte
daarvan dat nie een enkele oorspronklike dokument vandag meer
bestaan nie. Die kopiëring daarvan was met groot sorg met die hand
gedoen, onder streng toesig deur geletterde mense om te verseker dat
ek en jy vandag God se boodskap 100% akkuraat kan lees.
Daar was veel ander boeke (die apokriewe boeke) wat nie in die
Bybel opgeneem is nie. Die Bybel soos ons hom vandag ken is reeds in
die jaar 397 na Christus saamgestel soos wat dit vandag bestaan. Let
wel, meer as 200 jaar voordat Mohammed die Koran geskryf het.
Nietemin, ek is nogal heel gemaklik om te aanvaar dat die Here sy
woord in stand hou, want daardie liefdesbrief wat bestaan uit 66
boeke in twee Testamente is neergeskryf, en niemand kon nog ooit
iets daarvan verkeerd bewys nie.
My vriend, ek dink nogal die Here wil vandag vir jou sê: Ek is lief
vir jou, en ek sal jou red as jy jou hart vir My gee, Ek kan vir jou
'n brief gee... ~ Willem Botha, 26/08/2024 |
|
Sleg, sleg,
sleg, is die lewe!
Dinge ruk handuit, alles val uitmekaar, almal is skelm, jy vertrou
niks en niemand.
So gaan dit as jy sukkel met daardie halfvol / half leë glas.
Maar die wolkies het maar altyd 'n silwer randjie, as jy dit wil
sien.
Daar is baie pyn in hierdie wêreld, maar daar is baie meer genesing.
Daar is baie moeilikheid en swaarkry, maar daar is baie meer vrede.
Daar is baie haat, maar daar is baie meer liefde.
Daar is baie sonde, maar daar is baie meer genade.
Daar is baie vrees, maar daar is baie meer vryheid.
Daar is baie donkerte, maar daar is baie meer lig.
Daar is baie donker wolke, maar daar is baie meer visie.
Daar is baie dinge wat vergaan, maar daar is baie meer lewe.
Ek dink hierdie dinge is vir die meeste mense waar, maar nie vir
almal nie. Daar is egter vele mense wat net nie meer die silwer
randjie om die donker wolk kan sien nie, omdat die negatiewe
invloede net eenvoudig te groot is.
Hierdie
woorde kom uit die liedjie "Outrageous grace".
Hier is die refrein:
"Oh outrageous grace, oh outrageous grace
Love unfurled by heaven's hand
Oh outrageous grace, oh outrageous grace
Through my Jesus I can stand"
Inderdaad, deur die genade van Jesus kan ons staande bly. Kyk net
bietjie nuut. ~ Willem Botha, 19/08/2024 |
|
Hoe was jou dag? Vol drama en stress? Reg om
batterye te herlaai? Baie mense sien glad nie uit na 'n werkdag nie,
en dan nog minder na die nag wat voorlê.
Wat is die slaap 'n wondersoete ding... 'n Bekende gedig deur D. F.
Malherbe. Slaap, die beloning na 'n goeie dag se werk.
Na 'n dag se geswoeg en sweet met allerlei moeilikhede is dit darem
lekker om net so in die vergetelheid weg te sak. As jy so gelukkig
is soos ek slaap jy voor jou kop die kussing raak, maar dis nie vir
almal beskore nie. Sommige mense rol rond oor bekommernis oor hulle
eie sake, en party mense rol rond oor dinge wat dalk nie eers hulle
eie probleem is nie.
Dan is daar nog ander wat wakker lê oor verkeerde dinge waarmee
hulle besig is, dalk dinge wat by die werk onder verdenking is, of
sommer 'n lewenswyse wat net op kwaad uit is. Hulle slaap sleg.
Maar as jy dinge doen soos jy moet, hard werk en 'n aanwins vir jou
werkgewer is, en jou huishouding en sake alles goed en eerlik
hanteer, slaap jy goed. Ek hoop dis vir jou waar, want dan is
hierdie teks net vir jou.
Ps 4:9 "Nou sal ek onbesorg gaan lê en dadelik aan die slaap raak,
want, Here, U alleen laat my veilig woon... " ~ Willem Botha,
12/08/2024 |
|
Wat
maak jou gelukkig?
Dit kan nogal 'n moeilike vraag wees, of hoe? Ons is tans besig by
ons gemeente met 'n reeks oor hierdie vraag. Wat maak jou gelukkig?
Een van die boodskappe was kort en bondig: Niks maak jou gelukkig
nie. Niks bedoelende geen goeters maak jou gelukkig nie, definitief
nie geld nie, hoewel mens nogal ernstig ongelukkig kan raak as jy in
erge geldnood verkeer. Maar ons kan natuurlik lekker rondom hierdie
punt redeneer. Daar is vele redes hoekom geld mense ongelukkig kan
maak.
Te min geld, wanneer jy nie jou verpligtinge kan nakom nie, is 'n
groot bron van ongelukkigheid. Maar die teenpool is ook waar, want
te veel geld skep nog groter probleme. Ek ken baie mense wat baie
welaf is en geen tekort het nie, en geld bymekaarmaak wat hulle
nooit sal kan opgebruik nie, maar nie EEN van hulle het genoeg nie.
Sulke mense sloof hulle meer en meer af, hulle slaap sleg omdat
hulle bang is hulle gaan dit verloor, en daardie welvaart maak
sommiges net meer ongelukkig soos toe die hond uiteindelik die bus
vang.
Natuurlik is daar niks fout met welvaart nie, en as iemand dit
eerlik verdien het kom dit hulle toe, maar daardie eerlike faktor
kan nogal lekker gebruik word. Soms hoef jy nie te jok oor dinge nie,
jy hoef net so bietjie spaarsamig met die feite en die waarheid om
te gaan.
Die slotsom in die kerk se boodskappe is dat geluk nie lê in goedere
nie, maar eerder in verhoudinge. Dinge (goeters) maak jou baie
kortstondig gelukkig, maar verhoudinge kan vir altyd bly. Hopelik!
'n Mens se onrealistiese verwagtinge, jou loer na ander wat meer het
se goete, is 'n groot probleem. Wat sal sommige mense nie alles doen
om daardie onrealistiese verwagtinge te bevredig nie? Hoe ver sal
mense gaan? Soms tot misdaad en uiteindelik die tronk, is nie
vergesog nie.
Die woord "vrede" kom voor in die woord "tevrede".
Hierdie foto is van 'n man wat op die strand in Ballito woon, in 'n
tentjie half onder 'n voetganger bruggie. Ons het hom al vir 'n paar
jaar daar gesien as ons daar vakansie hou. Hy pla niemand nie en hy
het 'n hond wat saam met hom bly. Dan wonder ek, wat is sy storie?
Waar het sy paaie geloop? Wat is sy agtergrond? Was hy eens op 'n
tyd suksesvol? Is daar mense wat verantwoordelik is vir sy situasie?
Of het hy net self hierdie pad gekies en is hy gelukkig? Wil hy iets
anders hê in die lewe, of is hy tevrede? Betaal geen belasting nie,
hoegenaamd geen gejaagde lewe nie, skuld waarskynlik niemand niks en
niemand skuld hom niks. Aan die een kant lyk dit so idillies.
Nou vra ek jou die volgende: hoe was jou dag? Opgestress? Mense jou
in die afgrond in afgerem? Waardeer niemand jou meer nie? Glad nie
lus vir more nie? Haat jou baas? Haat jou kollegas? En dalk selfs 'n
paar familielede? In der dagen sat?
Hmmm, ek dink baie mense wat nou hier lees voel so. En boonop sonder
genoeg finansies. Dis wanneer die vraag opkom: Vir wat?!
Nou ja, dalk wil jy ook sommer oppak en op daardie strand by Ballito
onder die brug jou intrek gaan neem.
Maar jy sal nie, want jou goeters hou jou vas, jou besittings is net
te belangrik, want dit bring gerief in jou lewe. En jou vrese maak
dat jy eerder alles opvreet sodat die pensioen en medies betaal kan
woord. En daai vleisie en 'n biertjie vir 'n braaitjie. En wie wil
nou kêffie toe stap as jy kan ry?
Daar is hoeka 'n 5% verhoging op die horison, en ek skuld myself mos
lekker nuwe wiele. Vir alles wat ek moet opvreet. Dan maak ons
soveel skuld dat ons 10% dieper in die moeilikheid kom.
Dan begin alles van voor af. Ai tog, die lewe is so swaar.
Ek kry mense bitter jammer wat net nooit ooit gelukkig kan wees nie.
Soek jy antwoorde? Gaan lees die boeke Spreuke en Prediker, alles is
daar opgeskryf, want ons ou probleempies is niks nuuts nie.
Maar moet om vadersnaam nie jou heil gaan soek in voorspoed teologie
nie, die Here is nie jou jackpot wat net 'n gebed ver is nie, Dis
soos om te trou vir geld. Dis boonop ook die grootse piramide skema
op aarde.
Nee wat, net een woord: Tevrede. ~ Willem Botha, 01/08/2024 |
|
Genesis 1:0
Jip, reg gelees, Genesis een vers nul, 'n gedagte wat 'n vriend van
my wat baie diep kan dink, nou die dag noem en wat my ook ernstig
aan die dink gesit het.
"In die begin het God die hemel en die aarde geskep." (Gen. 1:1)
Hierdie vers het in my lewe my waarskynlik meer laat dink as enige
ander vers. Hoe het God geskep? Hoe lank gelede? Wat was die model?
Was dit 'n oerknal? Kon alles werklik uit 'n sogenaamde
"singularity" ontstaan? Het God met tyd die heelal tot stand gebring,
of was alles net in 'n oogwink daar? Bykans geen modelle van die
verlede werk meer nie, en die oerknal model is aan so baie
voorwaardes gekoppel dat hy nie meer staande bly nie. Is daar iets
soos "dark matter"? Waar is dit?
Maar... as jy dink hierdie is moeilike begrippe om te verstaan,
probeer bietjie sin maak van Gen. 1:0
Daar staan nie in Gen. 1:1 "In die begin het God Homself, die hemel
en die aarde geskep" nie.
Maar wat was voor vers 1?
Wel, ek het vir jou 'n heerlike verrassing, want ek het vandag Gen.
1:0 opgespoor, in die Bybel! En daarmee saam het ek 'n heerlike
tweede verrassing gekry.
God was daar, in Gen. 1:0, en jý was ook! Die grootsheid van hierdie
enorme heelal, die onverstaanbaarheid daarvan, en die verwondering
van dit, is nie naastenby so groot soos vóórdat God die fisiese,
materiële heelal geskep het nie. Soos jy weet het tyd saam met Gen.
1:1 ontstaan, vóór dit was tyd oorbodig, want Hy het nie tyd nodig
gehad nie. Wat is tyd in elk geval? Dis net waarneembaar op aarde
omdat dag/nag en die seisoene tyd waarneembaar maak.
Waarmee was God dan besig in Gen. 1:0? Dit lyk my nogal of Hy besig
was met iéts, want Gen. 1:0 word baie duidelik, sonder omhaal van
baie woorde, in die volgende teks genoem.
"Hy het ons wat aan Jesus behoort, gekies nog lank voor die wêreld
gemaak is." (Ef. 1:4)
Jy, ja jý, was in sy gedagtes, Hy het jou daar al uitgekies, al
verstaan niemand dit nie. Toe Gen. 1:1 plaasvind, was jou lewe en
bestaan alreeds haarfyn beplan. En op jou geboortedag, het Gen. 1:0
ten volle sy gestalte gekry.
Hoe kan jy aan jou doel op aarde twyfel, hoe kan jy twyfel of Hy
lief is vir jou en jou haarfyn beplan het in Gen. 1:0?
Jou beplanning is lank voor die grondlegging van die aarde
afgehandel, en jou materie is met die skepping eers gemaak. Dit het
later, baie later, gestalte gekry in jou liggaam. Gaan lees gerus
meer daaroor op die internet. Stof tot stof...
Jou siel is ook in Gen. 1:0 geskep, dit het later deel van jou
fisiese liggaam geword, en dit gaan terug na God toe as jou lewe
hier op aarde eindig.
"... die tyd wanneer die stof na die aarde toe terugkeer soos dit
was, en die gees na God terugkeer wat dit gegee het." (Pred. 12:7)
Ek verlustig my in hierdie gedagte.
Die volgende gedagte het my egter verstom. Genade, daardie genade
wat maak dat jy gered kan wees, het ook reeds in Gen. 1:0 tot stand
gekom. Lees weer Ef. 1:4, dink daaraan, en dank die Here daarvoor. ~
Willem Botha, 24/07/2024 |
|
Het
jy al gewonder of die Here 'n doel het met jou op aarde? Of hoekom
jy ooit gebore is? En wat dit gekos het om jou nou, hier aan die
lewe te kry? Ons dink so dikwels dat ons almal ouers het en hulle
moes natuurlik aan jou geboorte skenk.
Jy het sekerlik al hierdie prentjie gesien wat nou so gewild is op
sosiale media. Hoe meer ek hieraan dink, hoe meer tref dit my dat ek
nie net 'n ongeluk is wat in 1959 gebeur het nie.
Die Botha stamvader het in 1653 in Suid-Afrika aangekom, en
sedertdien moes bykans 4000 mense leef en oorleef het, tot op 'n
punt waar hulle kinders gekry het. Baie van hulle moes dikwels
bitter swaarkry oorleef, sommige het dalk die dood in die oë gestaar,
en dit dikwels net net vrygespring. Die meeste het in God geglo en
hulle hoop op Hom gesit, die meeste het by tye gesukkel om sy stem
te hoor, vele van hulle het dalk by tye diep getwyfel of Hy hulle
gebede hoor. Ek glo sommiges het gesukkel om swanger te raak terwyl
daar sonder twyfel baie ongewenste swangerskappe was. Ek dink baie
van hulle het met baie armoede die volgende geslag grootgemaak, daar
was dikwels honger geslaap, baie was armblankes wat van die hand na
die mond geleef het. Daar was egskeidings, alleen-ouers en vele het
by die geboorte van 'n kind amper die baba verloor.
Maar daardie bykans 4000 mense moes ELKEEN oorleef het en die
volgende baba grootmaak. Indien net EEN ENKELE een van daardie 4000
nie oorleef nie, was jy nie vandag hier nie. Elke een se bloed vloei
in jou are, en elke een se bloed vloei in jou kinders en jou
nageslag se are.
Jy sal eendag in die hemel vele van hulle weer ontmoet (die wat
gered is), hoewel ek nie dink dat dit per definisie dan sal saak
maak nie.
Die Here was intens lief vir elke een. Hy het 'n plan met elke een
se lewe gehad, soveel so dat die Here jou SO waardig geag het, dat
Hy almal (elke een) beskerm het sodat jy gebore kon word.
As dít jou nie spesiaal laat voel nie, sal niks dit regkry nie. Al
was daar dalk onbeplande swangerskappe, het die Here jou deur elke
een van daardie mense gevorm. Jy is jy omdat God jou NOU hier wou hê.
Hy het 'n plan met jou, al glo jy dit nie eers nie. Hy is jou Here
al glo jy dit dalk nie. Hy wil jou by Hom in die hemel hê, of jy dit
glo of nie. Hy wil (en kan) jou nou gebruik, al glo jy dit nie.
Vier duisend mense in vier honderd jaar was nodig sodat die Here jóú
kon skep. En jy is die kroon van sy Skepping.
Wat 'n wonderlike gedagte! ~ Willem Botha, 17/07/2024 |
|
As jy glo dat slegte goed nie met Christene
gebeur nie, moes die Here absoluut geen gevoel gehad het vir
Johannes die Doper nie, want sy kop is sinneloos afgekap. (Matt. 14)
As jy glo dat Ps 91 bedoel dat geen onaangename dinge soos dood,
siekte of ontydige goed jou sal tref nie, moes die Here vir Paulus
gehaat het. Want hy het skipbreuk gely, honger gaan slaap, hy was
vele kere aangerand oor sy geloof, en selfs in die tronk gegooi,
onskuldig. (2 Kor.11)
As jy glo dat die mensdom jou sal vereer en jou geensins bedreig nie
omdat jy die Here aan jou kant het, moes Stefanus baie laag op die
Here se liefdes lysie gewees het, want hy is juis daarom met klippe
doodgegooi. (Hand. 7)
As jy glo dat jy ryk moet wees omdat jy 'n Christen is, moet jy weer
die verhaal gaan lees oor Lasarus en die ryk man. (Luk. 16)
As jy dink dat jou finansies en goeie dade vir jou 'n spesiale
plekkie in die hemel gaan besorg, moet jy weer die verhaal gaan lees
oor die ryk jongman wie se rykdom in sy pad gestaan het om die ewige
lewe te verkry. (Luk. 18)
Wees baie versigtig vir predikers wat vir jou die son maan en sterre
beloof in ruil vir jou geld.
Wees versigtig vir mense wat hulleself as profete voordoen en
voorspoed beloof, in besonder as hulle vir jou sê om die Here te
herinner aan sy beloftes.
Dien die Here in afhanklikheid en vertrou dat Hy vir jou sal sorg,
maar oppas dat jy nie sekere tekste totaal buite konteks aanhaal en
misbruik nie. (Mat. 7 wat sê Vra en julle sal ontvang...)
Voorspoed teologie is al dikwels vergelyk met 'n piramide skema. ~
Willem Botha, 04/06/2024 |
|
SELFKASTYDING
Hoe genadig is God? Kon jy al ooit 'n greep kry op hierdie ding wat
ons onvoorwaardelike genade en vergifnis noem? Ek dink as jy 'n ouer
is, begin jy so ietsie verstaan van hierdie konsep van genade. Een
oomblik wil jy jou tiener verwurg, maar lê hy vanaand in sy bed en
slaap en jy kyk vir hom, smelt alles net weg. Môre spog jy die
wêreld vol met hom. Dis genade.
Maar... as
dit by God se genade kom, wil ons soms net nie hierdie ding vat nie,
want dan wil ons aanhoudend offers bring in die vorm van
selfkastyding. Kasty jy jouself ook soms so oor sonde?
Natuurlik is
sonde nie 'n man se speelmaat nie, en natuurlik haat die Here dit,
maar soms kasty ons onsself aanhoudend oor dinge wat Jesus klaar
oorwin het. Jesus – die volmaakte offer – het reeds namens ons
afgereken met sonde. As jy dit aanvaar het, en dit glo, is
selfkastyding nie meer nodig nie.
Heb 10 : 1 –
14
Die wet van Moses is slegs 'n skadubeeld van die weldade wat sou kom,
nie 'n werklike beeld daarvan nie. Voortdurend, jaar na jaar, word
dieselfde offers gebring, en tog kan die wet dié wat die offers
bring, nooit volkome van sonde vry maak nie. As dié wat offers
bring, eens en vir altyd gereinig en nie meer van sondes bewus was
nie, sou hulle immers opgehou het om offers te bring. Maar nou
herinner die offers juis jaar na jaar aan die sondes, omdat die
bloed van bulle en bokke onmoontlik die sondes kan wegneem. Daarom
sê Christus met sy koms in die wêreld: "Dit is nie diereoffer en
graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het.
Brandoffers en sondeoffers het U nie behaag nie! Toe het Ek gesê:
Kyk, Ek het gekom, o God, om u wil te doen. In die boekrol is dit
van My geskrywe." Eers sê Hy: "Diereoffers en graanoffers,
brandoffers en sondeoffers wou U nie hê nie en het U nie behaag nie,"
hoewel hierdie offers deur die wet voorgeskryf word. Daarna sê Hy: "Kyk,
Ek het gekom om u wil te doen." Hy skaf dus die eerste offers af om
'n ander offer in die plek daarvan te stel. Omdat God dit so wou, is
ons vir Hom afgesonder deurdat Jesus Christus sy liggaam as offer
gebring het, eens en vir altyd. Verder, elke priester staan dag vir
dag sy diens en verrig, en bring elke keer weer dieselfde offers,
wat tog nooit die sondes kan wegneem nie. Maar Jesus Christus het
één offer vir die sondes gebring en vir altyd aan die regterhand van
God gaan sit. Nou wag Hy daar totdat sy vyande aan Hom onderwerp is.
Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd
volkome van sonde vry gemaak.
Eens en vir
altyd skoon, sonder vlek of blaam. Moeilike konsep hierdie, juis
omdat ons nie verstaan hoe onvoorwaardelik, en finaal, hierdie
genade van God is nie. Dit is natuurlik nog moeiliker as jy tans in
'n situasie is waar jy swaarkry as gevolg van die konsekwensies van
een of ander verkeerde keuse. En nog meer, as jy dalk volhard in
verkeerde dinge.
Ek dink die
meeste mense kan getuig dat hulle al gehuil het voor die Here oor
hulle sondes. As hulle so sukkel om oorwinning daaroor te kry, of
miskien ly a.g.v. die uitvloeisels daarvan. Mens moenie berou met
selfkastyding verwar nie. Natuurlik moet mens berou hê oor jou
sondes; daar moet ’n sondebesef kom, gevolg deur berou, dan tree God
se vergifnis in. Selfkastyding is die proses waar mens dag na dag
loop en tob oor dit wat jy verkeerd gedoen het. Dis wat die satan
mos behaag.
In sommige
lande sien jy tydens Paasfees hoe mense die Via de la Rosa naboots.
Dan loop van die mans en slaan hulleself oor die rug met swepe dat
die hale lê en die bloed uitloop, ter nagedagtenis aan die lydenspad
wat Jesus geloop het. Edel gedagte, maar Jesus het deur baie erger
dinge gegaan as om net liggaamlik gemartel te word. Hy het immers
“ter helle neergedaal” en is deur Sy Vader verlaat. Daar is niks wat
ons kan doen om Sy lyding te simuleer nie. En dis verseker ook nie
nodig nie.
Maar... nou
loop ons dag vir dag met selfkastyding as gevolg van skuldgevoelens.
Het jy ook al gedink dat jou sondes te groot is vir die Here se
vergifnis? Dink jy ook soms dat jy nie kwalifiseer vir genade nie?
Miskien kyk jy na ander mense en dan dink jy hierdie persoon is 'n
waardige kliënt vir vryspraak, maar jy ag jouself nie goed genoeg
nie. Dis juis omdat ons nie goed genoeg is om die sondes te oorwin
nie dat jy vir Jesus nodig het. Wie ken jy wat die wet volmaak kan
onderhou? Kan jy enige name noem? Ek ook nie. Daarom het Jesus jou
waardig genoeg geag om vir JOU te sterf.
Ek wonder
nogal of Jesus dan dalk dink ... “Het ek dan verniet gesterf?”
Heb 10 : 17 –
18
Dan sê Hy verder: "Aan hulle sondes en hulle oortredings sal Ek
nooit meer dink nie." Waar die sondes vergewe is, is geen offer
daarvoor meer nodig nie.
Daar is nie
meer skuldgevoelens nodig nie. Daar is nie eers meer 'n gedagte
daaraan nodig nie, wat verby is, is verby. Maar die satan, die
verleier en leuenaar, is nogal lief daarvoor om dit dag na dag voor
jou kop te gooi. Moet wees, want dis immers al wapen wat hy teen jou
het. So verpes hy ons dag vir dag, en so glo ons hom dag vir dag.
Glo jy hom eerder as vir die Verlosser wat met alles klaargemaak
het?
Die probleem
van sondes is dat ons dikwels met die letsels daarvan sit en soms
moet daar dalk straf daarvoor uitgedien word. Dis dan wanneer spyt
met selfkastyding gepaard gaan, en dan glo ons nie dat Jesus ons
vrygespreek het nie. Omdat Jesus reeds gemartel is, hoef jy jouself
nie meer te martel nie.
Waar die
sondes vergewe is, is geen offer meer daarvoor nodig nie.
Heb 10 : 5
Daarom sê Christus met sy koms in die wêreld: "Dit is nie diereoffer
en graanoffer wat U wou hê nie, maar die liggaam wat U My gegee het.
Eintlik is
hierdie teks die volle verduideliking van “Tetelestai”.
Hierdie teks is goed genoeg vir ALMAL, ook vir jou. Ook vir die
moordenaar en verkragter, mits daar berou gekom het en klaargemaak
is met die sonde. Niemand is te sleg nie, nie eers die man wat langs
Jesus aan die kruis gesterf het nie.
Ons moet net
ophou om goed genoeg te probeer voel, want Jesus was goed genoeg
gewees.
Moenie loop met selfkastyding nie, want dit laat die persoon wat na
jou opkyk vir antwoorde op Geestelike vlak, net verder struikel. As
die kinders van Jesus dan nie kan oorborrel omdat hulle genade
ontvang het nie, hoekom sal ander mense dit dan wil ontvang?
Geen marteling is meer nodig nie, want Jesus het namens ons die pad
gestap en die volle prys betaal. En môre, as jy weereens struikel,
gaan Jesus jou nie uittel op jou voete nie, Hy gaan Sy hand na jou
toe uitsteek en se: “kom, staan op, ons probeer weer”. Jy hoef nooit
meer seer te hê oor jou onvolmaaktheid nie, dis verby.
Jy is 'n
oorwinnaar, jy is volmaak. Aanvaar dit net. ~ Willem Botha,
22/05/2024 |
|
Liewe ouers...
Ek sien so dikwels dat kinders geen respek het vir hulle ouers en
hulle opvoeding nie. Kyk, 'n tiener is soms maar 'n wille ding en
dit gaan rof in sommige huise, maar ek praat van volwasse mense wat
hulle ouers steeds verag, al is dié al jare oorlede. Ek dink baie
mense hou daarvan om hulle ouers te blameer vir hulle eie mislukking.
En ja, natuurlik is daar talle huishoudings waar die ouers se slegte
gewoontes diep letsels los op kinders en ek het begrip daarvoor.
Maar ons lewens stap aan en met tyd kry mens meer en meer begrip vir
die uitdagings wat ouers gehad het om hulle kinders groot te kry. Ek
het al geskryf dat ek my pa se geboortegrond opgespoor het in
Tonteldoos naby Dullstroom. Dis eers toe ek daar kon gaan stap en 'n
gevoel gekry het van die bitter swaarkry waardeur hulle is, dat ek
nog meer respek vir my pa gekry het.
Ek verlang deesdae nogal baie na my ouers, wat reeds lankal oorlede
is . Ek verlang spesifiek na my ma se stem (en sy het altyd gesing),
en die dinge wat sy altyd kwytgeraak het, en na my pa se manier van
dinge doen, want hy het vir my vreeslik baie lewenswaarhede geleer
sonder om veel te sê. Gelukkig het ek 'n goeie verhouding met my
ouers gehad, maar ek sien sulke lelike goed tussen ouers en kinders
gebeur. Die Here plaas so 'n groot klem op hierdie verhouding, dat
dit in die Wet opgeneem is. Eer jou vader en jou moeder... Ek vind
dit interessant dat daar nie ook staan "Eer jou kinders" nie. My
mening is maar net dat ouers baie deurloop onder hulle kinders.
"As jy jou vader en moeder vervloek, is jou lewe daarmee heen en bly
net die pikdonker oor." (Spr 20:20)
Ai, hoe sleg is dit nie. Op 'n mannekamp vertel 'n man vir my hoe sy
seun hom vloek, terwyl hy die volwasse seun totaal onderhou en vir
hom selfs 'n motor gekoop het, wat hy ook onderhou. Hoe tragies is
dit nie. Maar dit gaan verder.
" 'n Seun wat sy pa mishandel en sy ma verstoot, is skaamteloos en
veragtelik." (Spr 19:26)
Het jy al gesien hoe kinders hulle ouers op hulle ou dag verstoot?
Hoe bejaardes onder hulle kinders se wrede tonge deurloop? Dis
inderdaad veragtelik. Interessant dat soveel van hierdie mense dan
ook uiters slegte verhoudinge het met hulle eie kinders.
Hoe wonderlik sou dit nie wees as ek my ouers net hierdie EEN aand
by my kon hê, en hoe dit sou wees om hulle nog net EEN keer weer te
kon vashou, en net weer EEN keer vir hulle te sê dat ek vir hulle
lief is, want ek het dit te min gedoen. Ek is voorts so ongelooflik
dankbaar dat my kinders nie aspirasies het om die land te verlaat
nie, hoewel ek dit vir hulle 100% gun. Ons het hulle by die dag meer
en meer nodig in ons lewe, en hulle is vir ons so 'n ongelooflike
seën!
Eer jou vader en jou moeder, as jy hulle nog het. En wees goeie
ouers vir jou kinders, as jy hulle nog by jou het. Jy sal nie glo
hoe dit is as hulle weg is nie. ~ Willem Botha, 02/05/2024 |
|
Jy en jou Ventertjie
Ek vang myself kort kort dat ek tob oor dinge van die verlede, en
mense wat my op 'n tyd omgekrap het en wat steeds nou en dan in my
kop kom plak soos 'n onwelkome plakker. Ek wat al soveel boodskappe
geskryf het oor die houvas van jou verlede op jou toekoms, doen dit
steeds aan myself om nie net te laat gaan nie. Hoeveel onnodige,
lawwe stokou laste wil ek nou dra? Hoeveel onaangename herinneringe
wíl ek nog soms gaan opdiep?
As mens die pad vat Kaap toe met 'n sleepwaentjie agter die motor
kyk jy kort-kort in die spieël of Ventertjie nog kom. Daai waentjie
is gelaai met alles wat jy nodig het, en slegs wat jy nodig het,
want spasie is skaars. Maar gaan nou op toer met hierdie waentjie en
jy laai in elke dorp goetertjies by, totdat jy naderhand onnodig
swaar trek. So is dit in die lewe ook, dag vir dag laai jy "bagasie"
by, totdat daardie waentjie 'n reuse las is. Daar is hordes dinge
wat gemors in jou waentjie pak, jou verlede, dalk jou ouers, swak
selfbeeld en baie ander dinge.
Maar daardie bagasie maak dood. Naderhand sleep jy nie meer die
waentjie nie, hy stoot jou! En hy stoot jou net waar hy jou wil hê.
Soms moet mens egter maar net stop en die ding afpak en kyk of daar
nie 'n paar dinge uitgesmyt moet word nie. Die lewe is te swaar om
nog gemors ook saam te sleep. Paulus het net die regte antwoord in
Fil 3:13: "Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie.
Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my
uit na wat voor is." ~ Willem Botha, 30/04/2024 |
|
Hierdie
is ons "happy place". Dis Phyllis Robertson tehuis vir gestremdes,
en ons hou een Sondag per maand daar kerk. Dis só maklik om só lief
te raak vir hierdie mense, want sulke opregtheid kry jy nie gereeld
nie, want hierdie mense is sonder pretensies en sonder agendas. Ek
probeer om dinge op te som wat ons daar ervaar, maar die gedagtes
wat opkom sal boekdele beslaan, so ek noem net 'n paar. Die opregte,
onwrikbare geloof, en geestelike diepte by vele van hierdie mense en
selfs Bybelkennis is verstommend. Ons word elke keer met ope arms
ontvang en daar is soveel dankbaarheid, dat ons uitsien om te gaan.
Hulle hou van sing en hang aan ons lippe as ons die boodskap bring,
en neem flink daaraan deel. Ek het 'n groot ding eendag besef.
Hierdie mense is nie "besoedel" deur die "greed" na geld en aardse
besittings nie, want hulle versorging is vir hulle genoeg. Ek dink
as jy vir enige iemand daar R100 000 sou aanbied, sal hulle vir jou
vra wat hulle daarmee moet maak!
Hulle vra nie net raad nie, hulle gee dit ook graag.
Interessant genoeg is omtrent die helfte van die mens daar nie met
'n gebrek gebore nie, maar is daar a.g.v. ongelukke of siekte
toestande. Dit laat ons telkens besef jy nie alles net
vanselfsprekend in die lewe moet vat nie.
Baie ongelowiges sal jou peper met vrae oor hoekom aardse teëspoed
hulle soms tref, maar nie hierdie vriende van ons nie. Die meeste
aanvaar hulle gestremdheid gelate, maar leef in dankbaarheid oor wat
hulle steeds kan doen. Dis iets wat my dikwels skaam maak, omdat ek
my oor strooi kan bekommer.
Ons besoeke daar is só opbouend en aangenaam, en besef elke keer hoe
bevoorreg ons is. Ek weet nie altyd of ek so lief is vir die Here
soos die meeste inwoners daar nie!
Mmm... is ons regtig bevoorreg? Is ons regtig "beter af"?
Ek wonder. ~ Willem Botha |
|
Bereken die prys
Alles het 'n prys, elke besluit wat 'n mens neem, het een of ander
koste, en dis dikwels ongelooflik duur. Weet jy wat is die probleem
met genade? Ons verval in hierdie gedagte van: Jesus het mos klaar
daarvoor gesterf.
En nou begin mens maar leef asof alles veroorloof is, en ons kan
eintlik maar doen wat ons wil. En dis net daar waar die volstruis in
die windpomp invlieg, want só dikwels besef ons hierdie goed eers as
dit te laat is.
My punt is, ons kan nie net doen wat ons wil nie, want ons sal elke
oomblik aan iemand moet verantwoording doen. Wanneer dit by dinge
kom wat teen die Here se wil is, wil Hy 'n antwoord hê, maar dis nie
al nie, want ons moet dikwels ook aan ons familie, of vriende
verantwoording doen.
Maar die ergste is as jy aan jouself moet verantwoording doen, as
daardie tyd aanbreek wat jy jouself verwyt oor jou besluite.
Maar weet jy wat? Die Here los jou nie net sommer om aan te gaan
soos jy wil nie, want Hy sal elke oomblik denkbaar gebruik om jou
aandag te kry, en soms sal dit bitter ongemaklik wees, en dit sal
jou soms bykans breek. Nogal ironies dat ons dan die Here se weë
bevraagteken. Hoekom Here? Hoekom kom hierdie goed oor my pad?
Hoekom kasty U my so?
Dan sê die Here dalk, Ek is te lief vir jou om te sien hoe jy
jouself en mense om jou te vernietig!
Ons sing graag daardie liedjie wat sê: Vorm my en maak my, net soos
U wil... U is die Pottebakker en ek is die klei.
Maar ons sing dit maar met die gedagte dat die Here ons nou nie
regtig in 'n vuurwarm oond moet druk nie.
"Daar is 'n lewenswyse wat vir 'n mens reg kan lyk, maar die
uiteinde daarvan is die dood." (Spr. 16:25)
Ek sien nogal twee betekenisse in die woord "dood". Eerstens die
Geestelike dood, waar ons nie die ewige lewe by God beërwe nie, maar
tweedens ook die fisiese dood waar ons onsself vernietig weens swak
besluite.
Alles het inderdaad 'n prys, wat beteken dat dinge baie sleg kan
wees, maar andersyds kan dit ook 'n beloning wees, wat 'n wonderlike
prys is om te kry.
Die Here gee nie op nie, Hy doen alles wat Hy kan om ons aandag te
kry, maar dit hang van onsself af of ons betyds gaan reageer en ons
lewenswyse wat tot die dood lei, te verander. ~ Willem Botha,
14/03/2024 |
|
Ons was nou nie dag op die begrafnis van ’n
vriend. Daar word toe na hom verwys as ’n bastion vir sy gesin,
familie en vriendekring. Hoe mooi is dit nie! Dit beteken hy was vir
hulle ’n veilige hawe, ’n wegkruipplek, ’n skuilplek. Hy was vir
almal ’n steunpilaar, ’n baken van hoop, ’n stewige anker, ’n bron
van sekuriteit en krag. Almal kon na hom toe kom met hulle probleme
en hy sou luister en raad hê en moed inpraat. Almal kon by hom
aanklop en hy sou groot en klein met oop arms ontvang en sag met
hulle werk. As jy by hóm was, gaan jy opgebou weg, voel jy ligter,
is jy meer positief, sien jy kans vir jou pad. En nou is hulle
bastion weg, in ’n oogwink, onverwags ... Val hulle lewe nou
inmekaar? Gly hulle voete nou onder hulle uit? Dobber hulle nou rond
soos ’n boot sonder anker? Nee! Hulle getuig nou dat God hulle ware
Bastion is. Dié Een waar hulle nou skuil, waar hulle nou troos en
raad en beskerming kry. Dié Een wat nou vir hulle die anker en hoop
en krag is. Dié Een waarheen hulle nou vlug vir raad, dié Een wat
nou hulle laste op Hom neem, wat hulle trane afdroog en hulle laat
kans sien vir die lewe sonder hulle mens-bastion. Ek het net besef
ons moet dié Bastion ken, ons moet die pad na Hom toe ken, ons moet
naby Hom bly, ons moet die veiligheid van sy arms opsoek, ons moet
ons hand in sy sterk hand hou, ons moet ons lewe op sy fondasie bou.
Ons mens-bastions is verganklik, hulle blaas hulle asem maklik uit.
“Die Here is my rots, my skuilplek en my redder, my God, my rots by
wie ek skuil, my skild en sterk verlosser, my veilige vesting.” (Ps.
18:3) Dís God, ons Bastion. ~ Wilna Botha, 07/03/2024 |
|
Ek blaai
netnou deur ou boodskappe en soek inspirasie vir 'n paar woorde,
maar soms bly daai woorde net weg. Toe ek nou weer so "scroll" deur
ou boodskappe, kom hierdie volgende boodskap, wat lank gelede
geplaas was, weer op.
Hierdie gedagte draal deesdae weer gereeld in my kop, en ek oordink
hierdie tendense gereeld. Wat my net weer laat besef dat mens vir
die Here moet vra vir goeie onderskeidings vermoë, want ons as mense
gryp meer en meer na oppervlakkige "teologie", want dis lekker om
aan te kou, maar dit het soms geen diepte nie.
Kitskos
Daar is 'n lekker hamburgertjie daar by die groot M. Hy wag vir jou,
hy is klaar gereed, dalk vanoggend al gemaak, of gister. Jy het
skaars gestop en hy is reg vir die eerste happie, saam met daai
lekker dun chippies. Jy vat die eerste hap voor jy in tweede rat is,
en as jy by vyfde kom is hy geskiedenis. Hy proe na niks, hy ruik
selfs na niks en hy doen ook vir jou niks, vernaam nie in terme van
voedingswaarde nie. Maar dit maak nie saak nie, by die volgende dorp
kry jy sommer nog enetjie. Partykeer is jy gelukkig dan kry jy
sommer 'n speelgoedjie ook.
Jy kry sulke
teologie ook, Kitskos-teologie.
Kom vanaand
saam met my, daar praat 'n ou, en hy is vol van die Here, en boeta
hy gooi net Skrif! Alles reguit uit die Bybel uit. Kyk, as daai man
met jou klaar is seën die Here jou bonatuurlik. Partykeer blaas hy
net op jou dan seën die Here jou, eensklaps. Hy gooi net Skrif, daai
ou. Hy verkoop mooi video's ook, jy moet sommer die reeks koop. Hy
vertel nuwe goed, jy sal verbaas wees.
Dalk voel jy
vandag bietjie arm en daar is nie deurbrake in jou besigheid nie. En
voel jy boonop effe olik? Kom ons stap gou deur die huis. Mmm... Hey
ou, hierdie houtbeeld uit Afrika wat daar op die stoep hang, is jou
probleem. Die een daar langs daai rolletjie wat aan die dak hang wat
die vlieë vang! Dis daai ding man, hy maak jou arm! En siek. Hy kom
uit Afrika uit, dinge uit Afrika is getoor, en hulle is baie sterk!
Sterker as die Here! O koek, en daai stringetjie dingetjie uit die
ooste ook. Dinge uit die ooste is boos! Maar moenie worry oor jou
Toyota nie, en jou LG wasmasjien is ook okay. Nee wat, jy kan
vergeet van seën, jy doen nie die regte dinge nie. Jy blok die seën,
jy weet mos, die Here sê Sy volk gaan ten gronde weens 'n gebrek aan
kennis!
Ai, hoe word
ons nie meegesleur deur hierdie tipe goed nie. Wil jy iets beter eet?
Lekker vaste kos? Wat van daardie bredie wat jou ma vir die hele dag
op die stoof laat prut, daardie kossie met regte egte vleis in, as
jy hom geëet het wéét jy jy het geëet. Die geur hang die hele dag
deur die huis, dit het smaak, dis voedsaam en dit versadig. Dís mos
nou kos, maar dit het tyd gevat. Soos wanneer ons besig is met
Geestelike groei, soos wanneer ons besig is met die Here, elke dag,
besig met Sy Woord, besig om Sy stem te leer ken. Dit vat tyd, jy
ontwikkel onderskeidingsvermoë, jy word gevorm, soos die Pottebakker
besig is om jou te verander in 'n bruikbare artikel, en jy hoor self
Sy stem, jy hoef nie dit tweedehands te hoor nie. Met die tyd besef
jy dat seën nie noodwendig 'n klomp geld in die bank beteken nie, jy
besef dat Geestelike deurbrake nie iets te doen het met materiële
dinge nie. Met tyd begin jy dankbaar word vir die klein dingetjies
in die lewe, en dat jou voorspoed nie die belangrikste ding in die
lewe is nie , want die lewe hierna is baie belangriker.
Soek daardie
vaste kos, wag vir dit, wees dankbaar vir elke happie want dit kom
jou nie noodwendig toe nie. Maar wie sal Hom kan keer as Hy besluit
om jou te seën?
"Soos
pasgebore kindertjies smag na melk, moet julle smag na die suiwer
geestelike melk, sodat julle daardeur kan opgroei en die saligheid
verkry." (1 Pet. 2:2)
Slaan die
spyker op sy kop! Slap chips is lekker, maar goeie gesonde groente
is beter. ~ Willem Botha, 04/03/2024 |
|
Hoe wonderlik
as jy God se aangesig soek, en Hy sy aangesig oor jou laat skyn, en
jy geborge voel in sy teenwoordigheid. Daardie tye wat jy weet dat
niks jou uit sy hand kan ruk nie. Dis daardie tye wat jy besef dat
jou volharding in geloof elke oomblik die moeite werd is.
Hoe
verskriklik as jy sy aangesig verstoot en alles oor Hom vir jou net
'n aanstoot is. Daardie tye wat sy gesig ongevraag voor jou opdoem,
omdat Hy nooit opgee met jou nie, en alles doen om jou aandag te
trek. Dis tye wat soveel ongelowiges met mening probeer wegkom van
Hom af, maar besef jy kan nie, want Hy is orals. En Hy gee nie op
nie.
Hoe wonderlik
is dit as jy in nood verkeer, en jy besef dat Hy ál is wat oor is,
en die enigste plek waar jy vir hulp kan gaan soek, al moet jy soms
lank wag vir 'n deurbraak.
Hoe
verskriklik as jy self probeer om die mas op te kom, en niks werk
nie, want jy weier om by Hom te gaan aanklop vir hulp, omdat jou
trots te groot geraak het. En dan besef jy dat jou ongelowige
meelopers, wat jou nuwe vriende geword het, absoluut nutteloos is en
niks kan bied nie.
Hoe wonderlik
as die geboorte van 'n baba jou opnuut met verwondering vul, en jy
besef dat dit een van die grootse wonderwerke in die lewe is, en jy
opnuut besef dat net God so iets moontlik kan maak.
Hoe
verskriklik as jy verstok vashou aan wêreldse teorieë oor die
skepping wat sê dat daar nie 'n God nodig is om alles tot stand te
bring nie. Dis ook die tye waar die ongelowiges se verduidelikings
'n grap begin word, en niks daarvan water hou nie.
Hoe wonderlik
om 'n nuwe dag te sien aanbreek en jou hart gevul word met
dankbaarheid oor al die (soms piepklein) deurbrake wat jou met
intense dankbaarheid vul. Dis die tye dat jy tog net vir God dankie
kan sê, vernaam as jy lank gewag het vir daardie deurbrake.
Hoe
verskriklik is dit nie as jy 'n emosie van dankbaarheid beleef, maar
jy ontken dat daar Iets of Iemand groter as jy is, teenoor wie jy
jou dankbaarheid kan uitstort.
Hoe wonderlik
om die Bybel te lees en aanhoudend nuwe dinge te ontdek wanneer die
Here dit aan jou openbaar. Die tye wat dit voel asof die Here so
pas, vir die eerste keer, net vir jou, hierdie woorde neergepen het.
En om te weet dat slegte dinge wat dalk vir jou mag voorlê, ook
reeds aangespreek is in die Bybel, en dit wag vir jou om dit te
ontdek.
Hoe
verskriklik as die Bybel vir jou 'n aaklige dokument geword het wat
jou net wil verdoem en veroordeel, omdat jy kies om net dít raak te
sien wat jou ongelowigheid verder versterk.
Hoe wonderlik
om te lees van Jesus se maagdelike geboorte, en jy wéét dat jy wéét
dat dit die waarheid is. En om te lees van sy kruisiging wat gemaak
het dat jy nie meer die ewige dood hoef te sterf nie.
Hoe aaklig is
dit as jy die hele konsep van genade verwerp, en net raaksien dat
die Here 'n wrede God is wat mense net wil vertrap, veroordeel en
verwerp.
Hoe wonderlik
om die Here aan te roep in gebed, selfs soms net in 'n versugting,
en te weet dat Hy jou hoor, en boonop nog vir jou antwoord, dikwels
net daar en dan, al oortuig Hy jou soms dat jy dalk net geduldig
moet wag vir die uitkoms.
Hoe
verskriklik om by die punt te kom wat gebed vir jou 'n leë,
nuttelose aksie geword het wat beoefen word deur mense wat die kluts
kwytgeraak het.
Hoe wonderlik
om vanaand te gaan slaap met die wete dat Hy sy aangesig oor jou
laat skyn, in jou slaap, en dat Hy met onbeskryflike liefde vir jou
kyk terwyl jy onbewus daarvan in droomland is.
Die Here is
groot en lief vir jou. Hoe wonderlik as jy dit besef en glo. ~
Willem Botha, 26/02/2024 |
|
Genadedood....
'n Uiters kontroversiële onderwerp, waarop ek nie per sé my opinie
wil uitspreek nie, maar ek dink nogal baie daaraan. Is "lewe" heilig?
Besluit God alleen of die mens mag lewe of nie? Binne watter
raamwerke kan die mens self 'n besluit maak oor sy eie lewe? Wanneer
mag uiterste lyding beëindig word deur die mens?
Ek glo jy was dalk ook al in 'n situasie waar jy gewonder het of die
dood van 'n geliefde nie groot genade sou wees nie.
Passiewe genadedood is wettig, deurdat jy 'n sogenaamde "lewende"
testament kan opstel waar jy jou wens uitspreek dat jy nie kunsmatig
aan die lewe gehou wil word nie. Maar aktiewe genadedood is slegs in
enkele land wettig, en dit is dan natuurlik onderworpe aan hordes
reëls en regulasies.
Maar, as mens hieroor gesels, kan dit nogal 'n tameletjie word.
Ek vertel eers vir jou 'n storie, dan dink jy wat jy in dié situasie
sou doen. Jare gelede was 'n vriend van my sterwend aan kanker en hy
was al uitgemergel deur kanker behandeling, en hy was regtig op sy
laaste. Ek het die aand by hom in die hospitaal gaan kuier, toe hy
vir my die volgende sê : "Willem, bid asseblief NOU vir my dat die
Here my vannag sal kom haal, ek sien regtig nie kans vir nóg 'n
chemo sessie nie (die onkoloog wou weereens nog 'n rondte chemo doen).
Bid asseblief dat ek vannag aan die slaap sal raak en nie more
wakker word nie."
Wat sou jy doen? Sou jy daardie woorde gebid het in daardie
omstandighede? As jy dit sou doen, sou jy probeer inmeng met God se
wil oor lewe?
Ek het baie halfhartig 'n gebed gebid tot die strekking dat die Here
die man se wil sal uitvoer. Maar hy het nie daardie nag gesterf nie,
wel 5 dae later, presies soos wat hy begeer het. Hy het gaan slaap
en nie weer wakker geword nie.
Waar trek mens die streep? Wat van 'n situasie waar 'n ouer persoon
soveel pyn verduur dat hy/sy eerder die dood begeer? Is dit sonde?
Wel, kom ek vat jou nou na 'n baie groot probleem toe wat ons almal
daagliks sien, indien jou opinie sou wees dat God alleen besluit oor
lewe en dood.
Elkeen van ons het ál die nodige kennis om te weet dat jy jou dood
kan versnel met slegte gewoontes. Is jou eie lewe dan steeds heilig?
Durf ons vir die Here vra vir goeie gesondheid as ons self ons
liggame verwoes? Geld al die redenasies dan steeds rondom die neem
van 'n lewe? Vermoor mense hulleself nie dalk só maklik nie? Wat van
hoë risiko sportsoorte? Wat van stres wat ons op onsself laai deur
net te jaag na meer en meer materiële dinge? Baie mense sê hulle
werk hulle dood, en dan kry hulle dit uiteindelik reg, ten kose van
hulle families.
Die Bybel gee vir ons wonderlike riglyne oor hoe om 'n goeie gesonde,
gebalanseerde lewe te lei.
Ek het nie antwoorde oor hierdie dinge nie, en my kop spring heen en
weer oor dit.
Maar een ding weet ek, God wil die beste vir ons hê, maar ons het 'n
reuse verantwoordelikheid teenoor onsself en ons geliefdes. ~ Willem
Botha
Ek plaas hierdie volgende artikel wat iemand anders geskryf het
verbatim:
Genadedood
Die afgelope tyd was daar heelwat gepraat en geskryf oor dié
onderwerp. Wat is GENADEDOOD? Ek plaas hierdie artikel met die wete
dat elkeen geregtig is op sy opinie.
Definisie:
HAT: ʼn Pynlose dood kunsmatig bewerkstellig uit meegevoel vir ʼn lyer
aan ʼn ongeneeslike siekte. Dit staan ook bekend as eutanasie (eu =
goed, wel; thanatos = dood; eutanasie = goed doodgaan). Dit verwys
gewoonlik na die praktyk om ʼn lewe pynloos te beëindig.
Agtergrond:
Soos ander bio-etiese probleme kan ons nie genadedood in wetlike en
wetenskaplike isolasie benader nie. Dit is nie ʼn suiwer mediese
probleem per sé nie, maar ʼn morele probleem. Ons kan nie verwag dat
geneeshere alleen hieroor moet besluit nie, alhoewel hulle ʼn
definitiewe inset het om te lewer. Genadedood is deel van die debat
tussen twee denksisteme in die wêreld:
(a) God het
die mens geskep na sy eie beeld. Die reg om lewe te vernietig is dus
God s’n. Selfs nie deernis vir iemand wat erge pyn ondervind,
regverdig dit dat die mens ʼn lewe neem nie. As ons praat van
genadedood praat ons in werklikheid van vals genade.
(b) Die mens
het die reg om te kies wat met hom moet gebeur. As hy voel dat hy
nie langer wil leef nie, is dit sy reg. In hierdie gevalle berus die
keuse by die betrokke persoon of sy gesin. God speel geen rol in die
keuse nie.
Geskiedenis:
Wat is die posisie van die geneesheer? Mense verwys na die Eed van
Hippocrates. Hippocrates is in 5de eeu voor Christus op die Griekse
eiland Kos gebore en is veral bekend vir hierdie eed. Hierdie is ʼn
heidense eed, want hy begin deur te sweer by Apollo, Eskulapius en
ander gode. In hierdie eed sê hy onder andere: Ek sal geen
gevaarlike medisyne vir iemand gee as hy daarvoor vra nie; ek sal
ook nie so iets voorstel nie. Die ou Grieke en Romeine het nie geglo
dat lewe ten alle koste behou moet word nie. Hulle was nogal
verdraagsaam ten opsigte van selfmoord deur mense wat sterwend was –
Sokrates is ʼn goeie voorbeeld. Hy het gif gedrink voor hy
tereggestel kon word.
Die beskikbaarheid van allerlei middels wat mense kan doodmaak, het
die belangstelling in genadedood laat toeneem. Eutanasie-verenigings
is in Engeland (1935) en die VSA (1938) gestig om aggressiewe
genadedood te bevorder. In 1937 word genadedood in Switserland
gewettig, mits die persoon wat die lewe beëindig, niks daaruit gaan
baat nie.
Eugenetika (wetenskaplike ondersoek van alle faktore wat ʼn ras kan
verbeter) was ʼn probleem in Nazi-Duitsland. Eksperimente is op mense
uitgevoer. Onderliggend gaan dit oor die verbetering van die ras.
Dit het begin by mense wat verstandelik erg gestrem was. Daarna kom
die T4-program van die Nazi’s – dit begin met kinders onder die
ouderdom van 3 jaar wat geestelik of fisies gestrem was; dit word
later uitgebrei na ouer kinders; later na inrigtings waar mense met
geestesongesteldhede aangehou is. Laastens word dit uitgebrei na die
konsentrasiekampe. Nou was die slagoffers nie meer mense met
gestremdhede nie, maar Jode.
As gevolg van hierdie Nazi vergrype ontwikkel daar ʼn sterk stem teen
genadedood na die Tweede Wêreldoorlog. Sedertdien verander baie
lande hulle siening in die sin dat hulle meer toegeeflik word. ʼn
Goeie voorbeeld is Terri Schiavo. Sy het in Florida in die VSA
gewoon. Teen 2005 was sy reeds 15 jaar bewusteloos. Sy word met ʼn
maagbuis gevoed en so aan die lewe gehou. Haar man nader die hof met
die versoek dat die maagbuis verwyder moet word. Die res van die
familie (ook haar ouers) was daarteen gekant. Hy slaag met sy
aansoek in die hof; die buis word verwyder en sy sterf kort daarna.
Die wetlike posisie:
Mense se sienings oor genadedood wissel baie – van moord tot genade/verlossing.
Aktiewe genadedood is onwettig in Suid-Afrika en in meeste ander
lande. Die pasiënt het wel die reg om medisyne te weier – al lei dit
tot sy dood. Hierdie situasie is besig om baie vinnig te verander.
Baie lande is besig om hulle wetgewing aan te pas om genadedood
moontlik te maak. Sommige vorme van genadedood is wettig in België,
Luxemburg, Nederland, Switserland, Thailand, en die staat Oregon in
die VSA.
Hoekom kry
ons hierdie versagting van ons houding teenoor genadedood? Hoekom
laat meer lande dit toe? Hoekom steun meer mense genadedood? Daar is
veral drie faktore wat hier ʼn rol speel:
(a)
Aanvanklik het die heiligheid van lewe ʼn deurslaggewende rol gespeel,
maar in die moderne samelewing is die kwaliteit van lewe bepalend.
Genadedood is dus ʼn optrede van deernis.
(b) Die klem
op die reg van die mens om self te besluit – ook oor sy eie liggaam.
Dit is ʼn argument wat ons ook in die aborsie-debat kry.
(c) Die
samelewing se vrees vir oud word en die dood.
Hierdie
artikel is deur Coen Slabber, op Bybelkennis.co.za geplaas. |
|
Slangetjies en leertjies.
Ek is seker jy het hierdie bordspeletjie hordes kere as kind gespeel.
Die doel van die speletjie is om eerste by die eindpunt uit te kom,
maar soms is jy gelukkig en jou merkertjie beland gereeld op 'n
leertjie en jy vorder vinnig tot by die eindpunt. Maar o wee, met my
geluk beland ek kort kort op 'n slangetjie en dan is ek maar weer
net waar ek begin het.
Is die lewe nie ook maar so nie? Party mense tref net altyd die
goeie geluk, maar ander nie. Die lewe is op en af, en soms gaan dit
vir jare klopdisselboom, en dan eendag, uit die bloute tref 'n
tragedie of slegte omstandighede jou en dan voel dit of jy reg van
voor af moet begin. Dit lyk my ons het nie altyd al die keuses nie,
maar dat buite faktore 'n groot rol speel.
"Verder het ek in hierdie wêreld gesien: dit is nie die vinnigstes
wat die reisies wen nie, nie die sterkstes wat die oorlog wen nie,
nie dié met wysheid wat kos het nie, nie die verstandiges wat ryk
word nie, nie dié met kennis met wie dit goed gaan nie. Alles word
bepaal deur tyd en geleentheid."(Pred. 9:11)
Dit sê verseker nie dat God nie in beheer is nie. Maar ek lees
hierin raak dat die Bybel voorsiening maak daarvoor dat
omstandighede 'n rol speel in ons daaglikse lewe. Die vraag is nie
of slegte dinge op jou pad gaan kom of nie, maar of jy bereid is om
verder te speel en weer op te staan as jy platgeslaan is. Saam met
God kan jy altyd weer begin, as jy wil. ~ Willem Botha, 15/02/2024 |
|
Is die Here in ons diens? Hoef Hy te
verduidelik waarmee Hy besig is? Hoef Hy Homself te verdedig teen
mense wat hulle geloof verloor het en wat alles wat Hy doen of sê in
twyfel trek? Hoef Hy te verduidelik as mense so graag sê dat die
Bybel homself weerspreek? Hoef Hy te antwoord as mense hulleself so
vreeslik slim hou en dink hulle is verhewe bo Hom? Hoe arrogant kan
mense nie raak nie, en hoe roekeloos kan hulle nie word nie. Wat is
die mense per slot van rekening, die mens wat sy asem so maklik
uitblaas en so maklik hulpeloos en hopeloos kan word?
Ek is seker jy word ook dikwels daarmee gekonfronteer, en dan voel
dit of mense met hulle geykte redenasies die oorhand oor jou kry, en
dat jy net eenvoudig nie antwoorde het nie. Vernaam as mense jou in
'n hoek druk met woorde soos: hoe kan 'n liefdevolle God sulke dinge
toelaat? Ja, natuurlik het ek ook nie altyd antwoorde nie, maar ek
sal nooit toelaat dat so iemand my laat twyfel in God nie.
Nou ja, Job het 'n goeie bloutjie geloop toe Hy ook die Here probeer
aanvat het.
Toe het die Here vir Job aangespreek uit 'n stormwind uit: “Wie is
dit wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig
dat hy geen insig het nie? Maak jou reg vir die stryd: Ek sal vra,
antwoord jy My. Waar was jy toe Ek die aarde se fondamente gelê het?
Praat as jy die antwoord het. Wie het die aarde afgemeet? Weet jy
dit? Wie het 'n maatlyn oor hom gespan? Waarop is sy voetstukke
neergesit? Wie het hom aanmekaargesit, daardie oggend toe die sterre
saamgesing het en al die hemelinge gejubel het? Wie het die see
opgedam toe hy begin uitborrel het? Ek het hom met wolke bedek, hom
met donkerte toegemaak. Ek het vir hom perke gestel, hom agter slot
en grendel gesit. Ek het gesê: ‘Tot hiertoe mag jy kom, nie verder
nie; hier is die grens van jou magtige golwe.’ “Het jy, Job, in jou
tyd die môre beveel om te kom? Weet jy waar die daeraad vandaan kom?
Die daeraad wat lig oor die hele aarde bring sodat die goddeloses
nie in die donker kan bly skuil nie?" (Job 38 : 1-13)
Hierdie volgende woorde van die Here spreek boekdele! “Wie is dit
wat besig is om my bedoelinge te dwarsboom met woorde wat getuig dat
hy geen insig het nie?”
Maar in hoofstuk 39 blaas Job die aftog.
Job het toe vir die Here gesê: “Ek is nie opgewasse teen U nie. Hoe
sou ek U kon antwoord? Ek sal liewer stilbly. Ek het gepraat, maar
ek kon nie 'n antwoord vind nie, ek het weer geprobeer, maar nou sal
ek stilbly.” (Job 39 : 36 - 38)
Ek het al menigmaal in my lewe eintlik dieselfde gedoen, maar ek het
net besef Hy is soewerein en Hy weet die beste. Ek volstaan ook maar
eerder met Job se woorde:- "... maar nou sal ek stilbly" ~ Willem
Botha, 05/02/2024 |
|
Willem
stuur vandag vir ons gesin ’n skermgreep, wat hy êrens gesien het.
Dit sê dat dit vandag, 1 Februarie, wêreldoptimis dag is. Dit sê
daarby dat die doel van die dag is om vir mense die kans te gee om
eerder die glas as half-vol te sien teenoor half-leeg, om te fokus
op die positiewe kant van ’n saak, to look at the bright side! Ai
hoe wonderlik sou dit wees as die hele wêreld régtig vir vandag
optimisties kon wees. Meer nog, hoe wonderlik sou dit wees as ons as
Christene vandag optimisties kon wees. Of nóg beter: as ons elke dag
optimisties kon wees. “Optimism is an attitude reflecting a belief
or hope that the outcome of some specific endeavor, or outcomes in
general, will be positive, favorable, and desirable.” – dis die
definisie van optimisme, aldus Wikipedia. Daar is só baie aanhalings
oor optimisme en oor ’n positiewe ingesteldheid. Ek hou daarvan om
dit te lees en myself te probeer motiveer en inspireer om méér
optimisties te wees. Dis ook goed vir my om swartgallige mense te
probeer vermy en die geselskap op te soek (in lewende lywe én op
plekke soos Facebook!) van positiewe mense, met ’n optimistiese
uitkyk, mense wat hoopvol is en verby die lelike, verby die probleme,
verby die gemors na die mooi in alles soek (en vind!) en daai
optimisme deel in hulle getuienis én wys in hulle lewe. Vir ons as
Christene is optimisme eintlik meer as net positiewe denke, dis
gesetel in die hoop wat ons het. Ons positiewe denke is vasgeanker
in iets ewig en onveranderd, in Iemand wat die toekoms ken, wat die
heelal in sy hand hou, wat sy beloftes nakom. “Daarom moet ons
aanhou om die dinge to glo en te sê wat ons hoop, ons moenie daaroor
twyfel nie. Ons kan baie seker wees daarvan omdat God dit belowe het
en Hy sal doen wat Hy belowe het.” (Heb. 10:23, Bybel vir
almal-vertaling) Sonder ’n persoonlike verhouding met Jesus, sonder
vertroue in Hom, sonder geloof in die onveranderlike liefde en
getrouheid van God, sonder die beloftes en aanmoediging en
bemoediging uit die Woord, is egte, langdurige optimisme seker nie
moontlik nie. My dogter het dié aanhaling op die foto aan die begin
van die jaar met ons gedeel en gesê dit gaan hierdie jaar haar motto
wees. Ons het dit toe sommer vir ons ook aangeneem en vir ons elkeen
so ’n bordjie gemaak. Dit pas nogal mooi in by wêreldoptimis dag!
“Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle
vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word
deur die krag van die Heilige Gees!” (Rom 15:13) ~ Wilna Botha,
01/02/2023 |
|
Met niks...
Met niks het jy in die wêreld gekom, en met niks gaan jy daaruit. So
het Job ook gesê in Job 1:21. Jou aardse skatte het nét waarde
terwyl jy asemhaal. As jy gebore word, besit jy per definisie
heeltemal niks, tensy jy in 'n stewige erfporsie in gebore word.
Andersins besit jy die kleertjies wat jou ma gekoop het, en die
fopspeen is waarskynlik ook net joune. Maar met tyd verjaar jy en
kry jy geskenke en dis die totaal van jou besittings. Eventueel sal
jy begin inkomste verdien, en dan begin jou besittings meer word,
maar dan begin snaakse goed gebeur. Iemand het eendag hierdie ware
woorde kwytgeraak. Jy werk en swoeg en sweet meesal om een van twee
redes: Uit vrees (dat jy dalk dít sal verloor wat jy besit), of uit
gierigheid. Daar steek nogal waarheid daarin. Al hierdie weelde en
besittings het vir jou persoonlik 'n baie kort lewe, dit bestaan
immers net tussen jou geboorte en sterfdatums. 'n Jong man het
eendag vir my gesê dat hy hard gaan werk en goeie besigheid doen en
aftree op veertig, maar ek het net my kop geskud. Vader Tyd het
hierdie jong man hopeloos ontnugter, want hy het op sy beplande "aftree"
ouderdom absoluut niks besit nie.
Kyk na hierdie wyse woorde wat in Prediker opgeteken staan:
"Wat die mens het, is beter as wat hy begeer. Ook hier kom dit tot
niks. Dit is 'n gejaag na wind." (Pred 6:9)
Watter ongelooflike waarheid is hierdie nie. "Wat die mens het, is
beter as wat hy begeer". 'n Baie welaf man het eendag gesê: “Leer om
tevrede te wees met wat jy het, want ek beweeg tussen die rykstes
van die rykes, en ek ken nie een wat genoeg het nie.”
Sjoe, ons almal soek meer, maar die Here sê hier baie duidelik dat
begeer niks goeds inhou nie. Oordadige rykdom is nie vir almal
beskore nie, en daar kom ongelukkig soms ander dinge daarmee saam
wat ek en jy nie noodwendig kan hanteer nie.
Diegene wat in tevredenheid kan leef met wat hy het, slaap goed in
die nag, maar die wat altyd meer begeer doen soms verkeerde dinge om
daardie begeertes te bevredig.
"Liewer 'n stukkie droë brood met vrede daarby as 'n huis vol kos
met 'n getwis daarby." (Spr. 17:1) ~ Willem Botha, 29/01/2024 |
|
"When all the odds are stacked against you..."
Ek lees hierdie frase onlangs in 'n boek en dit het my diep laat
dink. Elke mens het uitdagings, elke dag, en daar kan hordes goed
wees wat mense magteloos maak. Ek dink as ek moet raai, sou ek sê
dat die breë bevolking meesal met die volgende dinge sukkel:
gesondheid, finansies, verhoudinge wat skeefloop, eensaamheid, 'n
gevoel van nutteloosheid, hooploosheid, depressie ens.
Maar dis sleg as die lig in die tonnel totaal weggeraak het, en dit
voel of alles teen jou draai.
When all the odds are stacked against you...
Miskien klink dit maar weereens net na leë, geykte woorde as mens sê
dat jy net na die Here toe kan vlug.
" 'n BEDEVAARTSLIED. Ek slaan my oë op na die berge: waar sal my
hulp vandaan kom?" (Ps. 121:1)
Die woord bedevaartslied is so mooi woord. Dit klink na 'n gebed in
'n liedvorm, iets wat jy kan sing in jou nood. Is dit nie amper
ondenkbaar nie? Dat jy sing in jou nood? Soos Paulus en Silas in die
tronk.
Ek kyk op na die berge, ek slaan my oë op na die Here toe. Na wie
anders as dit voel of álles, en álmal hulle rug op jou gedraai het?
Jy weet mos, as groot moeilikheid jou tref, raak jy bitter eensaam,
want vriende verdamp soos mis voor die son.
En so maklik dink ons die Here het ook sy rug gedraai, maar dit kán
nooit waar wees nie. Ek hou so van die gedagte dat dít die tyd is
wat jy maar net eenvoudig in die Here se arms terugsak, en om totaal
oor te gee. Of om op sy skoot te klouter en vir Hom te vra om jou
net vas te hou. As 'n kind seerkry, is daar geen groter vertroosting
nie as om net in sy ouers se sterk arms te gaan skuiling soek. In
sulke tye is dit die beste om op te hou om teen die omstandighede te
veg, en net oor te gee. Die meeste storms bedaar weer, weet jy? Die
meeste storms hou nie vir altyd aan nie, maar ja, soms laat 'n storm
skade agter. Maar ook daar is die Here se hand beskikbaar om te
help.
Ek is ook al deur storms, maar tydens nie een van daardie storms het
die Here sy rug gedraai nie, en die meeste mense kom sterker aan die
ander kant uit. En voorts gebeur dit dat mense selfs vir die Here
dankie sê (ek het ook), want daardie soete oorwinning is soms daai
storm werd, al klink dit na 'n sinnelose gedagte. Moenie jou nét
blindstaar teen die donker tonnel nie, slaan eerder jou oë op na
waar God is. Waar anders sal jou hulp vandaan kom? ~ Willem Botha,
25/01/2024 |
|
Ek was vandag
weer in die teenwoordigheid van iemand wat net ánders is –
vriendelik, rustig en kalm, sy praat só mooi en positief en
belangstellend met almal. Iemand wat mens inspireer, iemand wat jou
nie onaangeraak laat nie. Dit was nie iemand wat ek ken nie. Om die
waarheid te sê dis iemand wat in ’n winkel werk, iemand wat teen
vyfuur die middag, ná die hele dag se werk, alle rede gehad het om
dalk nie meer so vriendelik te wees nie. Ek het gewonder wat dit is
wat haar anders maak. Toe besef ek daai “iets” in haar is heel
waarskynlik God se lig wat uit haar straal. Sy het nie haar lig
onder ’n emmer, in ’n kelder of onder die bed gesit nie, maar op ’n
lampstander sodat dit vir almal om haar lig gee. Haar lig is nie
uitgedoof deur die dag se probleme, deur moegheid of veroordeling
nie; dis nie uitgedoof deur ander mense se negatiwiteit of
onbeskoftheid nie – dit het net geskyn omdat dit is wie sy is. Ek
wil meer só wees. Ek wil hierdie ter harte neem: “Pas dus op dat die
lig in jou nie donker is nie. As jou hele liggaam verlig is en nie
’n enkele donker plekkie het nie, sal dit heeltemal verlig wees soos
wanneer ’n lamp jou met sy skynsel verlig.” (Luk. 11:36) Ek wil dít
doen, want lig verdryf donkerte en net miskien kan ek help om ’n
skynsel lig in iemand se dag te bring. Ek wil dít doen, want dit
sal God verheerlik: “Julle moet soos ’n lig in hierdie pikdonker
wêreld skyn. Ander mense moet uit julle woorde en dade sien dat
julle God van harte dien. Dan sal hulle sê dat God regtig ’n groot
en goeie God is. So word julle hemelse Vader se Naam regtig
grootgemaak.” (Matt. 5:16, Die Boodskap) ~ Wilna Botha, 23/01/2024 |
|
Wie is God dan regtig?
Mens hoor by Christene van 'n liefdevolle God wat nét die beste vir
jou in gedagte het. Maar by ongelowiges hoor jy dat Hy 'n kwaai God
is wat jou elke dag wil straf en jou lewe miserabel maak. Hoekom
verskil hierdie partye so van mekaar? Ek dink ek het uiteindelik 'n
redelike verduideliking vir hierdie dilemma vir myself uitgemaak.
Ek het einde verlede jaar weer begin om die Bybel van voor tot agter
deur te lees in een jaar, aan die hand van die sogenaamde "Eenjaar
Bybel". Jy lees elke dag een deel uit die ou Testament, 'n deel uit
Psalms, 'n deel uit die nuwe Testament en 'n stukkie uit Spreuke.
Dan is daar ook kort kommentare daarby. Tien minute se lees per dag
neem jou deur die hele Bybel in slegs een jaar. Die leesgedeeltes
begin eenvoudig voor in die ou Testament, sowel as voor in die nuwe
Testament, een stukkie van elk direk na mekaar.
As jy hier by Exodus tot Numeri kom, begin jy jou vasdraai in
hierdie onmoontlike wette en reëls wat die Here deur Moses aan die
volk deurgegee het. Dis regtig VERSKRIKLIK moeisaam om deur dit te
worstel, en dit klink onmoontlik om die Here te behaag. Maar omdat
niemand dit kon regkry nie, moes daar die hele tyd offers gebring
word. En die Here is onbeskryflik streng, en dit was vir die volk
niks vreemd om dikwels mense met klippe dood te gooi nie. As jou
kind jou vloek moet jy hom doodmaak!!! Ek verstaan hoekom die volk
Hom as kwaai en liefdeloos ervaar het. Maar terwyl jy lees, kom die
stukkies uit die nuwe Testament op, en dis 'n totale ander prentjie,
dit klink selfs na 'n ander God! My emosies ry elke aand wipplank
tussen die gedeeltes wat jou só afrem, dat ek dit soms nie wil lees
nie, teenoor 'n liefdevolle Jesus wat met groot deernis mense genees
het, en hope liefde op almal uitgestort het. En wanneer jy begin
agterkom dat Hý die finale offer gebring het deur te sterf aan die
kruis, besef jy regtig wat die prys van daardie liefde was.
Nou, ja, dis waar die verskil inkom by mense. As jy nie vir Jesus
aangeneem het nie, sál jy vassteek by die gedagte van 'n wrede,
liefdelose God, maar as jy Hom aanvaar as jou Redder, kan jy
eenvoudig nie anders as om nét liefde te ervaar nie. En God die
Vader? Hoe sien ons sy liefde raak?
“God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het,
sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige
lewe sal hê. " (Joh. 3:16)
As dít nie liefde is nie! Dink aan jou eie kind, sal jy hom/haar aan
'n kruis gaan vasspyker vir ander se redding? Dik wrede spykers deur
jou babatjie se polse?
Maar hoekom kan almal dan nie hierdie situasie insien en aanvaar nie?
Die antwoord daarvoor is ook in die Bybel.
"Die mens wat nie die Gees van God het nie, aanvaar nie die dinge
van die Gees van God nie. Vir hom is dit onsin. Hy kan dit ook nie
verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel moet word." (1 Kor.
2:14 )
Dis die probleem, mense weerstaan die Gees, en bly daarom verlore.
Maar Hy hou nooit op roep en soek na mense nie.
"Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die
deur oopmaak, sal Ek by hom ingaan en saam met hom die feesmaal hou,
en hy saam met My." (Open. 3:20) ~ Willem Botha, 17/01/2024 |
|
Op die laaste dag van 2023 sing ons hierdie
woorde in die kerk: “... Your goodness is running after me” en net
daar besef ek ek kan die nuwe jaar met vrymoedigheid betree, want
waar ek gaan wees, wat ook al op my wag, die Here is daar en sy
goedheid en guns sal my volg, dit sal agter my aanhardloop, dit sal
my vind, dit sal genoeg wees vir elke dag in die nuwe jaar. Ps.
65:12 sê so mooi: “U kroon die jaar met U goeie gawes. Waar U ook
gaan, is daar oorvloed!” (Ps. 65:12) Ek is oortuig daarvan dat die
Here ons elkeen se jaar ook só sal kroon en dat sy goeie gawes in
oorvloed op ons as sy kinders sal neerreën in hierdie nuwe jaar. Mag
jy dit druppel vir druppel raaksien en op jou vel voel en mag jy
sien hoedat sy goedheid jou agtervolg! ~ Wilna Botha, 11/01/2024 |
|
Toe breek hy aan, sommer
net so. Dis nou die jaar 2024 en weereens skud dit ons so bietjie
dat die jare so flink aanstap. Kan jy onthou wat jy gedoen het op 31
Desember 1999? Daardie middernag het die jaar 2000 aangebreek, en
soos met enige groot mylpaal was daar geweldige onsekerheid oor die
toekoms. Wat hou hierdie nuwe millennium vir ons in? Gaan
Suid-Afrika staande bly? Gaan óns staande bly? En so wil ons ook
weet van 2024. Gaan ons staande bly?
Die antwoord is natuurlik onomwonde JA!!! Hoekom nie? Is jou gô nou
skielik uit? Nee man, wees opgewonde, want soos my dogter tereg vra:
Wat is die beste wat kan gebeur?
'n Vriend deel 'n artikel met my oor die statistieke van die "Youversion
family of apps", wat die Bybel app insluit. Dis verstommend hoeveel
miljoene keer die Bybel jaarliks wêreldwyd afgelaai word, en hoeveel
spesifieke tekste deur mense gesoek en gedeel word.
Sommiges sal jou vertel dat die Bybel uitgedien raak, maar
statistieke vertel 'n ander storie. Wat my hart egter warm gemaak
het, is die teks wat in 2023 die meeste gedeel en afgelaai is.
"Wees nie bevrees nie, want Ek is met jou; kyk nie angstig rond nie,
want Ek is jou God. Ek versterk jou, ook help Ek jou, ook ondersteun
Ek jou met my reddende regterhand." (Jes. 41:10)
Voorts kon "Youversion" 200 nuwe weergawes van die Bybel, in meer as
100 tale, beskikbaar stel.
Wel, as jy wonder of daar 'n God is in wie se vertroue jy jouself
kan stel, bewys hierdie statistieke dat die Here kliphard aan die
werk is. Hierdie is nié net die werk van mense nie.
Terloops, Youversion is boonop gratis.
Ons webblad,
www.heuning.co.za, het vanaf 2008 tot nou bykans 410 000 besoeke
gehad. Vir my is dit nog ’n aanduiding dat mense aan die Here vashou,
dat mense op sy beloftes vertrou en die geskrewe Woord ernstig opvat.
Daarom kan ek en jy dit ook doen vir 2024. Hy het nie weggegaan nie,
Hy is nie nou eers terug by die werk van vakansie af nie, Hy het nie
nodig gehad om bietjie te gaan rus nie en sy beloftes aan jou en sy
liefde vír jou, staan rotsvas.
Ons gaan voort met Heuning, ons plaas weereens gereeld boodskappe en
ons kuier heerlik saam met jou op hierdie platform.
2024, hier is ons, ons stap aan en ons sien uit daarna. Hoekom nie?
Wat is die beste wat kan gebeur? ~ Willem Botha, 09/01/2024 |
|
Klik hier vir nog meer
heuningdruppels > |
|
Duplisering en verspreiding
word toegelaat sonder veranderinge en met verwysing na die outeur en webruimte (www.heuning.co.za) |
|
|